Laguna Le Crete is 'n gesins vakansie-oord reg langs die gewilde Uvongo-strand met sy bekende kloof, waterval en strandmeer. Die kompleks bied direkte toegang tot die strand en het uitstekende sekuriteit met 'n toegangsbeheerhek en 24 uur-sekuriteit en -patrolliediens. Daar is 'n swembad, verskeie gemeenskaplike braai-areas, 'n tennisbaan en wasgoedgeriewe wat met spesiale munte werk op die perseel. Gaste het maklike toegang tot winkelsentrums, restaurante en rolprentteaters in Shelly Center minder as 5 km noord en Margate sowat 3 km suid hiervandaan.

Die hoofslaapkamer het 'n dubbelbed en 'n en suite-badkamer met 'n hoekbad, stort, toilet en wasbak. Daar is 'n kluisie in die middelste klerekas wat ideaal is om jou beursie, sleutels ens. in te stoor. Die tweede en derde slaapkamers het elkeen stapelbeddens met 'n dubbelbed onder en 'n enkelbed bo. Hierdie 2 kamers deel 'n badkamer met 'n groot stort, wasbak en toilet. Die slaapkamers het almal afstandbeheerde plafonwaaiers.

Die moderne oopplan-kombuis is goed toegerus met alles wat jy sal benodig vir selfsorg. Daar is genoeg breekware en eetgerei dat jy nie die hele vakansie hoef te staan en skottelgoed was nie. Al die gewone geriewe en meer word voorsien, soos 'n skottelgoedwasser, ysmasjien en wasmasjien-droër. 'n Daaglikse skoonmaakdiens kan gereël word teen 'n addisionele fooi.

Die sitkamer is baie gerieflik en sluit 3 sitsakke in. Dit het ook 'n plafonwaaier, maar daar is ook losstaande waaiers wat jou selfs op die warmste dag sal koel hou. Verder is daar 'n groot LCD-TV met DStv Premium (gratis), DVD-speler en radio/CD-speler. Daar is 'n tweede TV in die derde slaapkamer met DStv ExtraView.

Daar is toegang tot die ruim balkon vanaf die sitkamer of hoofslaapkamer. Daar is 'n etenstafel met sitplek vir 8, 'n gasbraai, stoepmeubels en 2 sonstoele. As jy vroeg opstaan sal jy beloon word met asemrowende sonsopkomste van dié balkon af.

Die eenheid het 'n veilige onderdak parkeerplek vir 1 voertuig; oop parkeerplek vir addisionele voertuie en sleepwaens is ook gratis beskikbaar. Alle linne en badhanddoeke word voorsien, maar bring asseblief jou eie strandhanddoeke saam. Rook word nie in die woonstel toegelaat nie; gaste mag slegs op die balkon rook. Geen troeteldiere word toegelaat nie.

Fasiliteite
  • buite swembad
  • films / teater (minder as 5km)
  • haaibesigtiging (minder as 10 km)
  • motorhuur (minder as 20km)
  • nie gediens
  • parkering op die terrein
  • skottelgoedwasser (sommige eenhede)
  • strand (minder as 500 m)
  • tee / koffie fasiliteite
  • tennisbaan
  • tuimeldroër in eenheid
  • wasgeriewe
  • wasmasjien in eenheid