Bly Plekke Logo

Tuinroete

OorsigVerblyf
Featherbed Nature Reserve, looking down onto the Knysna Heads  © Vaiz Ha, License

Tuinroete

Die Tuinroete lê langs die kus, tussen Heidelberg en die Oos-Kaapgrens by Stormsriviermond en sluit al die dorpe en oorde langs die N2-Snelweg en kus in. In die Noorde word die Tuinroete omgrens met drie bergreekse, die Langeberg, die Outenikwa- en die Tsitsikamma berge. Die hele streek is gevul met die mooiste natuurtonele en baie gewilde oorde is langs hierdie roete gebou. Groot gedeeltes van die Tuinroete word beheer deur die Suid-Afrikaaanse Nasionale Parkeraad. Dit verseker die bewaring van hierdie kosbare, ongerepte gebied vir die toekoms. Honderde soorte wild word na die vleilande in hierdie gebied getrek.

In die verre Weste van die Tuinroete, waar die Breederivier in die Indiese Oseaan vloei, is St Sebastionbaai, 'n jaarlikse broeiplek van die Suidelike Noorkapper-Walvis. Gedurende Junie tot September kan hierdie diere vanaf "Whitesands" gesien word. In een seisoen was daar al meer as 130 walvisse waargeneem wat meer as 50 koeie en hul kalwers ingesluit het.

Die dorp Riversdal lê langs die N2 en het bekend geword as die blommeparadys van die Tuinroete. Hierdie dorp is die mekka vir natuurliefhebbers van alle ouderdomme en veral vir die fynbos-entoesiaste. Hier kan u gaan stap, fiets- of perdry. Noord van die dorp is die bekende Langeberg, met 'n pas wat lei na die Klein Karoo. 'n Bietjie na die Ooste vanaf Riversdal, is die klein dorpie Albertinia, genoem na 'n plaaslike prediker. Die dorp is geleë in 'n groot skaap- en koringstreek en is baie bekend as Suid-Afrika se hoofproduseerder van rooi- en geeloker. Daar is twee fabrieke wat sap van die streek se aalwyne produseer .

Mosselbaai se geskiedenis dateer terug tot in die 15de eeu en het sy naam gekry van die massas mossels wat hier gekry word. Die dorp lê onder 'n sonnige skiereiland, net weg van die N2 en halfpad tussen Kaapstad en Port Elizabeth. Dit was in Mosselbaai wat Bartomoleu Dias in 1488 geland het om vars water in te skeep. Die geskiedkundiges kan na verskeie blokhuise gaan kyk wat die Engelse in die Outenikwa-berg gedurende die Anglo Boere-oorlog gebou het.

Die volgende dorp op die Tuinroete is George, met 'n pragtige museum wat hoofsaaklik konsentreer op houtsneewerk. Daar is'n gerekonstrueerde houtkappershut en ook waens, karre en selfs ou grammefone. Haroldsbaai is George se eie strandoord en is net buite die dorp. Hier is daar goeie uitkykpunte om na die walvisse en dolfyne te kyk. 'n Bergpas lei vanaf George na die Klein Karoo.

Knysna se Nasionale-meergebied is bekend as die juweel van die Tuinroete. Daar is 'n groot strandmeer wat by sy ingang deur twee sandsteen-koppe begrens word, met die berge van die Outenikwa Natuurreservaat as agtergrond. Die strandmeer is die tuiste van die bekende Knysna-seeperd en die Pansy-skulp. Hierdie pragtige dorp bied aan die besoeker enigiets, vanaf goeie winkels en restaurante, tot staproetes - daar is selfs 3 gholfbane! Die Knysna Olifantpark bied 'n unieke geleentheid om hierdie pragtige diere te sien wie se voorgeslag vroeër in hierdie woude gelewe het.

Verder langs die kus vanaf Knysna lê die gewilde oord-dorp, Plettenbergbaai, deur baie net Plett genoem. Op die strand is daar ook 'Beacon Island' met sy hotel. In die baai self kan u sien hoe skole Dolfyne, die Boggelrug- en Bottelneus-, speel.

Verskeie walvisse-spesies kan ook hier gesien word. Die Suidelike Noorkapper, die Boggelrug en ook ander, soos die Orca of die Moordvis. Dit is die enigste plek ter wêreld waar die skaars 'Beaked'-walvis verfilm is. Daar word bootritte aangebied met die uitsluitlike doel om na walvisse te gaan kyk. Aan die Suidekant van Plettenbergbaai is die Robberg Natuurreservaat met sy baie kort staproetes deur die fynbos langs die kus wat hierdie gedeelte oorheers.

Aan die Oostekant van die Tuinroete is die Tsitsikamma Nasionale park, 'n ongerepte binnelandse woud, die tuiste van geelhout-, stinkhout- en ysterhout en ook baie ander boomsoorte wat almal in hierdie woud bewaar word. Die kuslyn hier is besonder aanskoulik, met sy natuurlike klowe wat oor miljoene jare gevorm is. Die 5 dag Otter-staproete is langs hierdie kus. Stappers word aanbeveel om lank voor die tyd hier plek te bespreek.

Gewilde Dorpe

Wys 1 tot 20 van 126 eenhede
Wys 1 tot {{total}} van {{total}} eenhede
Geen resultate
{{heading}}

{{place.name}}

{{place.category}}

{{place.info}}

Special Categories

Sign-up to our Great Escapes newsletter

© BlyPlekke.co.za 1998-2024 blyplekke_live
Tuinroete Verblyf en Inligting. Tuinroete, Wes-Kaap.
WTS App Browser