Om na Wupperthal te reis, is nie vir sissies nie - die dorpie is afgeleë en slegs bereikbaar via 'n grondpad vanaf Clanwilliam oor die Parkhuispas. Wupperthal is net meer as 25 km van Clanwilliam af, maar weens die kronkelende aard van die pad is die werklike afstand ongeveer 75 km. Die uitdagende pad neem die reisiger deur die Sederberge tot by die pragtige, groen oase van Wupperthal. Die dorp is rustig en die geboue is, danksy die afgeleë ligging, grotendeels ongeskonde. Die betowerende kalmte van die platteland werk byna verslawend in op die besoeker.
Hierdie bekoorlike dorpie is in 1830 deur ds. Johann Gottlieb Leipoldt van die Rynse Sendinggenootskap gestig. Die dorpie het 'n tuiste geword vir 'n groot aantal vrygestelde slawe, en die Rynse Sendinggenootskap het verskeie bedrywe begin, waaronder messelwerk, hoedemakery, leerlooiery, houtwerk, grasdakwerk en skoenmakery ('n bedryf wat vandag nog in die dorpie bestaan). Die gemeenskap is klein en hegte. Rooibos - 'n tee wat plaaslik verbou word - speel 'n groot rol in die dorp se voortbestaan, maar vrugte, gedroogde peulgewasse en gerolde tabak is ook deel van hul uitvoerprodukte.
Die inwoners is uiters trots daarop dat hulle een van die oudste skoenfabrieke in Suid-Afrika huisves. 'n Besoek aan die skoenfabriek, wat reeds byna twee eeue bestaan, is letterlik soos 'n stap terug in die tyd. Die bekwame werknemers gebruik eeue-oue tegnieke om die leer te sny en te stik, en hul vaardige handewerk is bekend regoor die Sederberge.
Die bekwame ambagsmanne en -vroue wat die fabriek bedryf, is in sommige gevalle skoenmakers in die derde geslag; jy kan dus verseker wees van 'n kwaliteitproduk teen 'n goeie prys, by 'n skoenbestemming soos geen ander ter wêreld nie!