Milkwood Cottage is 'n privaat wegkruipplek in die hart van die Tuinroete, geleë in Hershamstrand, Groot Brakrivier, Suid-Afrika. Hierdie knus, tog ruim kothuis is genestel tussen Melkhoutbome en bied 'n ideale wegkomplek vir 'n rustige vakansie. Hierdie kothuis bied selfsorg-verblyf aan maksimum 8 persone.
 
Die kothuis het 'n ruim, oopplan woon/kombuis, 4 dubbel-slaapkamers met drie en-suite badkamers. Die vierde slaapkamer is heeltemal apart op die grondvloer met sy eie badkamer. Die goed toegeruste kombuis het 'n mikrogolfoond, ys/vrieskas, 'n 4-plaat stoof en ook die nodige eetgerei en breekgoed vir 'n gerieflike verblyf. 'n Knus keramiek-kaggel in die woongebied verhit die hele kothuis wat dit baie ideaal maak vir die wintermaande. Opvou-deure maak oop na die sondek met 'n Weberbraaier vir buitelewe in hierdie rustige plek. Geniet die privaatheid wat die welige tuin u bied, terwyl u dit ook kan geniet om na die menigte voëls te kyk.

Die tuin spog met 'n trampolien, swaaie, 'n groot sandput en Wendyhuis wat die kinders besig sal hou terwyl u rustig kan ontspan.

Die gaste kan braai in die groot lapa, net langs die sandduin, onder die blaredak van die Melkhoutbome.

'n Flinke stappie vanaf die kothuis neem u na die see vir 'n wandeling of swem by Hersamstrand. Daar is ook swemplek by Suiderkruis-strand, Groot Brak, of by die Groot Brak Strandmeer, ideaal vir kinders met sy veilige, kalm water en ook baie gewild vir 'n piekniek of 'n braai.

Badhanddoeke en beddegoed word voorsien, maar bring asseblief u eie strandhanddoeke. Vol DSTV word ook voorsien. Daar is 'n DVD-speler en DVD's kan in Groot Brak gehuur word, slegs 5 minute se reistyd weg.

Beskutte parkering op die terrein beteken een ding minder om u oor te bekommer!

Die kothuis is 5 minute se reistyd weg van die dorp, Groot Brak. Die dorp bied al die geriewe soos supermarkte, apteek, dokters, biblioteek, kerke, wasplekke, restaurante en koffiewinkels. 15 Minute se reistyd na die George Lughawe. Vir 'n vinnige rondte gholf is daar die Dolphin Creek gholfbaan net laer af langs die pad, of vir die meer ernstiger gholfspeler is die keuse amper onbeperk, van die Bramble Hill by Fancourt tot die Pinnacle Point in Mosselbaai. Daar is verskillende bane vir berg-fietse in die omgewing, 4x4 roetes, roei, kajak en hengel... Kom, VERKEN!