JubelnJuig Self Catering Unit

Selfsorg Vakansie Woonstelle In Dwarskersbos

Jubel n Juig is 'n selfsorgeenheid en 'n spesiale plek om te ontspan. Hierdie 68m² eenheid is deel van my huis en skaars 200meter weg van die strand. Dit is in die 3de ry vanaf die strand en kyk Noord.

Ons luukse selfsorg eenheid het 'n slaapkamer met 'n konings-grootte bed en ingeboude kaste. Daar is ook twee slaapbanke wat groot genoeg is, (117cm per bank) om 4 ekstra persone per eenheid te huisves - 6 persone op enige spesifieke tydstip.

Die kombuis is goed toegerus en al die skoonmaak-middels word voorsien. Dit het ruim eet- en sit-geriewe. Die slaapkamer het ingeboude kaste en eie badkamer met 'n stort/bad-kombinasie en 'n muurprop vir skeer. Bad-handdoeke is beskikbaar.

Ander geriewe sluit 'n plafon-waaier en verwarmer in die slaapkamer in, 'n groot onder-dak stoep met braaigeriewe en seil-skerm vir die weer, as ook 'n Tv, DVD (geen DSTV-gerief nie), radio en CD-speler. Parkering reg by die voordeur. Van die stoep af, kan 'n klein stukkie van die see (Noord/Wes)  en die Piketberg (Ooste) gesien word. U hoor deurentyd die see se geluid.

Bring u eie strand-handdoeke en hout vir braai.

Dwarskersbos het verstommende sonsondergange! Vars lug, lang, oop strande lei na 'n panorama van prag. In die middel van die somer veroorsaak 'n sandbank, omtrent 150m in die baai, dat die water se temperatuur soms tot soveel as 20 tot 23°C styg! As deel van die blomme-gordel spog Dwarskersbos self met sy eie flora, iets wat gesien moet word!

Elke seisoen het sy eie bekoring by Jubel n Juig. Dit is 'n bekorende gesig om te sien en te voel as die mis oor die see ingerol kom, oor die strand - die tuin - die vensters. Dit is dan dat u die stilte kan hoor! Die geluid van water wat aan die sand van die strand lek. Die gedempte skreeu van die seemeeue wat na mossels soek. Dan weer die geluid van die wind - u kan die reën ruik wanneer die wind uit die Noord-Weste teen u druk om 'n sweempie van sout op u lippe te los.
"Waarmee kan ek my tyd verwyl?" mag u vra.

Los die malle gejaag agter u en kom, ontspan, kom vind weer u innerlike self en doen alles wat u nie normaalweg tyd voor het nie. Pak 'n piekniekmandjie en gaan kyk na voëls by die Rocherpan of by Bergrivier. Besoek die seekos-restaurante in Laaiplek en Velddrif, bederf uself by die opelug strand-restaurant, Muisbos-skerm, naby Lambertsbaai, of Boesmanland Kombuis, in Langebaan. Besoek die Weskus-inkopiesentrum in Vredenburg, bespreek 'n bootvaart op die Bergrivier - of neem slegs 'n boek en lees!!!

U is welkom om u bergfietse te bring om deur die natuurlike en ryk sandveld te ry - baie veilig en ontspannend. Geniet ritte na Elandsbaai, Piketberg, Porterville en gaan pluk kersies (Desember)op die Klondyke-Kersieplaas in Ceres. 'n Ligte middagete by Draaihoek-gastehuis, halfpad na Elandsbaai, is 'n besonderse smaak-ondervinding!

Koop 'n string bokkoms (windgedroogde vis), of bring u eie hengel-gerei. Ontspan teen die einde van die dag met 'n braai op die stoep, maar bo alles, voel hoe die kalmte die spanning verdring.

Fasiliteite
  • nie gediens
  • parkering op die terrein
  • strand (minder as 500 m)
  • tee / koffie fasiliteite
  • verwarmers in eenheid
  • wasgeriewe
  • wasgeriewe (minder as 2 km)
  • wasmasjien op die terrein

Rigting aanwysings
GPS Koördinate - S 32° 40.869' O 18° 14.754'